Sunday, August 31, 2008

Ge"shape" Preek

Inleiding:
Wat op aarde maak jy hier?
Jy en ek is hier om ‘n verskil te maak. Ons is op hierdie aarde met ‘n bepaalde doel: nie net om die hulpbronne op te gebruik nie. Ons mag nie net suurstofdiewe wees nie, want dit is nie waarom God ons op hierdie aarde geplaas het nie. God het ons geskep met ‘n bepaalde doel. God het aan elkeen van ons ‘n bepaalde unieke SHAPE gegee om ‘n positiewe verskil te maak in hierdie wêreld. Ons is geSHAPE vir diens.
Teks:
Ef 2:10: God het julle gemaak wat julle nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Ons is God se handewerk. God het ons in ‘n bepaalde shape geshape.
Hierdie shape bestaan uit verskillende boustene. Ons gaan na 5 kyk:

1 Ge”shape”.

Sielsgawes = besondere genadegawes.
God gee aan elke kind van Hom deur die HG bepaalde gawes. 1 Kor 12: 11
4. Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee.
Paulus praat van: 'n woord van wysheid te praat,
'n woord van kennis deur dieselfde Gees; genadegawes van gesondmaking
krag om wonders te doen,
gawe om te profeteer,
Vers 11: Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil.
Duidelik: God gee die gawes soos wat Hy besluit.

Waarom gee God dit?
Sodat ons God kan dien deur ander te dien. 1 Kor 12:7 Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Kan dit nie vir myself hou nie.

Hart = passie
Woord hart het in Bybel die betekenis van begeertes, belangstellings, ambisies, drome, emosies. Daarmee word bedoel jou hart bepaal waarom jy die dinge sê wat jy sê; en
doen wat jy doen en hoe jy voel. Ons praat hier van wat is jou passie: sommige goed gryp jou aan, ander laat jou koud. Gaan oor jou belangstellings. Gaan leef jou passie.




Aanleg = vermoëns waarmee jy gebore word.
God het ons elkeen met sy uniekhede gevorm. Party van ons het ‘n aanleg / vermoë om met ons hande te werk, ander met syfers, ander met fisika, diere, mense ens. Jy is ‘n pakket van ongelooflike vermoëns, ‘n verstommende skepping van God.
God wil dat wat jy ookal doen, jy alles tot eer van die Here moet doen.

Persoonlikheid =
God het ons met verskillende persoonlikhede geskep: ekstroverte, introverte, denkers, gevoelsmense, drywers, beplanners ens. Daar is geen regte of verkeerde persoonlikheid nie. Petrus se persoonlikheid was anders as die van Paulus en Paulus was weer anders as Moses. God gebruik hulle met hulle persoonlikhede.

Wat belangrik is: ken jou persoonlikheid en gebruik dit in God se diens.

Ervaring =
Ervarings, dit wat met jou gebeur, vorm jou menswees. Die meeste van die goed wat met jou gebeur het, was nie omdat jy dit beplan het nie maar omdat dit gebeur het. Luister hoe praat Paulus daaroor: 2 Kor 1: 4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,

Elkeen van ons het ‘n unieke shape.
Niemand se shape is beter as iemand anders se shape nie. 1 Kor 12:5. “Daar is ‘n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee,”
Daar is plek in die gemeente vir elkeen se shape. Daar is plek in die omgewing daar buite vir elke shape. Ontdek jou eie shape: dit wat jy kan doen en waarvan jy hou, en kry die diensplek waar jy pas.

Onthou jy is geshape vir diens.
‘n Kerkwoord wat ons gebruik is bediening.

2 Diens.
My diens, my bediening is aan God:
Ons dien God deur ander te dien.
Jesus is hierin die voorbeeld by uitnemendheid.
Wanneer Paulus in Fil 2:3 oor die diens-gesindheid van gelowiges in die wêreld praat sê hy:
Vers 3: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Jesus gee Homself as dienaar. Dit is wat Hy ook wil hê dat ons moet wees: dienaars vir mekaar. Die voetewas van Sy dissipels in Joh 13 kom illustreer juis dit: dien mekaar. Dien die ander een. En geen daad is te klein of te eenvoudig nie. Geen daad is benewe die stand van die gelowige! Trouens die gelowige gaan doen juis wat ander mense nie bereid is om te doen nie.

Jy is dienaar van God deur te bedien.

Bediening: is om jou shape te gebruik om iemand anders in die Naam van die Here te dien. Wanneer jy jou Godgegewe shape gebruik vir diens vervul jy jou roeping.
Hierdie dien, bediening vra iets: die liefde wat Christus vir my het, moet in my daaglikse lewe hande en voete kry.
God wil jou gebruik op ‘n spesifieke plek. Daar waar jy elke dag is:
Werkplek: of jy baas of klaas is. Begin jou werkers bedien. Nie soseer met geld nie. Bless hulle met die liefdesgawes van Jesus.
Koopplek: Bedien die kassier met ‘n vriendelike groet op sy/haar naam. Dankie aan die skoonmaker in die mall of gym sodat jy in skoon omgewing kan wees.

Hierdie dien mekaar, dien die ander is so belangrik dat Jesus sê: vir sover jy dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het jy dit aan my gedoen… Matt 25
Wie is hierdie broers: die vreemdelinge, die sonder klere, die siekes, die wat honger en dors is, in die tronk is.

Uitdaging: begin jy met iets. Raak betrokke. Doen al die goeie dinge wat jy kan op al die moontlike maniere op al die moontlike plekke op al die moontlike tye so lank as wat jy lewe.
Dan gaan daar iets gebeur. As ons nie begin dien nie gaan daar niks gebeur nie.
Matt 9: 13. Dit help nie julle broei mekaar warm in die kerk en hou mooi eredienste nie. Nee, ek wil eerder hê julle moet mense help wat julle hulp regtig nodig het. Watter mense is dit? Die mense in die mall van die lewe. In die kerk en in die gemeente is ons saam om gepreach en veral geteach te word SODAT ons daar buite kan gaan bedien.
Jy is geshape vir diens.
Te veel sit in die kerk om bedien te word. Ek soek ‘n kerk wat my behoeftes bevredig en my seen
Kinders van die Here wat hulle roeping ontdek het vra nie: Wie gaan my behoeftes bevredig nie. Nee hulle vra: Wie se behoeftes kan ek bevredig?

Uitdaging: aan elke gelowige, aan elke kleingroep: bybelstudiegroep, wyk, of wie ookal: God vra van jou: gebruik jou shape om ‘n verskil te maak. Maak dit ‘n Gebedsaak. Vra: Here, waar wil U hê moet ek dien? Ek kan jou verseker: God het ‘n plek vir elkeen van ons.
Amen.


Belydenis:
Ds: Wat op aarde maak jy hier?
Almal: Ek is hier om God te dien.

Ds: Baie keer is ons net gefokus op ons eie behoeftes. Dan leef ons met ‘n gesindheid van: Ek wil bedien word.
Almal: Here, vergewe ons waar ons op ons trone van die eie-ek sit.

Sing Ps 130: 2 as skuldbelydenis.

Ds: In Jesus is jou sonde vergewe.

Alaml: Heilige Gees, ek is deur U geshape vir diens.
Here, wys my waar U my wil gebruik.
Hier is ek, gebruik my.
Amen.

Gebed:
Here, oral waar ek gaan laat ek vingerafdrukke na. Op die hande wat ek aanraak, op borde, mure en boeke. Daar is nie wegkomkans nie, waar ek vat plaas ek 'n teken van my identiteit. "Help my Here, om vandag waar ek ookal gaan hartafdrukke na te laat.. Hartafdrukke van regverdigheid en deernis, van begrip en liefde, van barmhartigheid en belangstelling. Hartafdrukke van hartlike vriendelikheid en van opregte betrokkenheid. Mag my hart 'n ander hart aanraak en 'n afdruk van u liefde laat." Amen.

Lofoffer. Slotlied: Lied 308: 1 – 5 beurtsang.
Seën:
God wat jou geshape het gaan jou genadig wees, die liefde van die Vader gaan by jou wees en die HG gaan jou gebruik as ‘n seen (blessing) vir die wêreld Amen.

No comments: