Friday, August 15, 2008

TEMA 3 : KLEINGROEP

TEMA 3: Jy is deel van God se gesin
(Dag 15 - 21 uit Doelgerigte lewe.)

Deeltyd.
Deel met mekaar die lekker van gesin- en familie-wees.
Wees sensitief want daar kan mense wees wat nie sulke lekker ervarings van gesin of familie-wees het nie. Fokus op die goeie.

Lofprystyd.
Loof die Here oor die feit dat jy nou hier kan wees.

Bespreek die volgende stelling: Ek het ander mense nodig.
Oop vraag. Die belangrike is dat ons mense nodig het, of ons dit wil erken of nie. Selfs in die paradys sê die Here: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. En dan maak God vir hom ‘n maat. Dit is ook waar van ons geloofslewe dat ons mekaar nodig het: God maak ons daarom deel van sy kerk. Verskillende beeld word gebruik vir die kerk: volk van God, huisgesin van God, liggaam van God. Ons gaan fokus op die beeld van gesin of familie van God.

Skriftyd.
Lees Ef 1: 3 – 6; 11; Ef 2: 19.
Vraag: Hier hoor ons dat ons God se kinders is, deel van sy huisgesin, sy volk. Hoe het dit gebeur dat ons dit geword het? Kyk na die woorde en betekenis daarvan in die verse wat ons gelees.
In Christus uitverkies (v4); God het ons lief (v5); Deur sy genadige beskikking (v5); Vrylik aan ons geskenk (v6). Uit al hierdie woorde is dit duidelik dat ons niks kan doen om kind van God te word nie. God het alles klaar gedoen. God het my sy kind gemaak ten spyte van die feit van ek is wie ek is. Ek aanvaar in die geloof dat dit vir my waar is. Wees verwonder daaroor dat dit met jou gebeur het. (Nota: Moenie vasval oor die uitverkiesing nie, dit is ‘n gesprek vir ‘n ander keer.)


Lees Gal 4:5 -7. Hier word van jou as gelowige gepraat. Watter gedagtes kom by jou op as jy dit hoor?
Oop vraag. Die gedagte is dat die lede met mekaar deel oor dit wat dit vir hulle beteken.

Enige gesin of familie het ”reëls”. Wat lees ons in Joh 13: 34 – 35 en Joh 15: 12 – 17 is die reël vir God se gesin?
Julle moet mekaar liefhê!

Wat beteken hierdie liefhê?
Wese van liefde is nie wat ons van ander dink of vir hulle gee nie. Liefde is hoeveel ons van onsself gee. Hierdie liefhê is soos Jesus liefhê. Hoe het Jesus ons lief? (Hier kan ‘n hele aantal voorbeelde genoem word. Ek noem enkeles.)
· Aanvaar mekaar soos Jesus. Onvoorwaardelik.
· Alles opofferend. Sterf aan die kruis.
· Tot voordeel van die ander. Eie belange is ondergeskik aan die belange van die ander.

Gee tyd om stories te deel waar iemand jou so liefgehad het.

Waarom moet ons mekaar liefhê? (Joh 13:35)
Liefde is uiteindelik dit wat ‘n Christen anders maak. Liefde vir mekaar maak die Christendom geloofwaardig. Ons liefde vir mekaar is die belangrikste getuienis in hierdie wêreld. Dit is nou meer as ooit die tyd in ons land om hierdie onvoorwaardelike liefde vir mekaar uit te leef.

Bidtyd.
Bid dat die Here deur Sy Gees ons sal help om mekaar lief te hê soos wat Hy wil hê ons mekaar moet liefhê. Bid vir mekaar se persoonlike omstandighede..

Vrede vir jou.
Rikus

No comments: