Sunday, August 17, 2008

Dag 15: Jy is deel van God se gesin

Dag 15 : Tema 3: Jy is deel van God se gesin

5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Efesiers 1:5

Die Bybel in praktyk vertolk die teks as volg:
1:5 God het jou sy kind gemaak. Deur Jesus se toedoen het ons deel geword van God se gesin, en is ons saam met Christus erfgename van God (Rom 8:17). ’n Aangenome kind het volgens die wette van die Romeine dieselfde regte en voorregte as ’n biologiese kind gehad. Paulus gebruik hierdie beeld dus om te beklemtoon hoe intiem ons verhouding met God is. Daar is meer inligting oor aanneming in Galasiërs 4:5–7.

So as kinders van God, is ons ook deel van sy gesin. Dit bring mee dat al God se kinders een groot gesin vorm.

Om ’n kind van God te wees moet ons in Jesus glo; deur Sy genade gered.
26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, Gal.3:26

God gee dan ons dan ook ’n belofte dat as kinders van Hom ons ook erfgename sal wees as deel van God se gesin.
7Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak. Gal 4:7.

Paulus bid dan dat ons oë sal oopgaan en bewus sal word van die hemelse erfenis.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, Ef 1:18

Wat is hierdie erfenis volgens die bybel:
• Ons sal vir ewig met God wees.
17daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. 1 Tes 4:117
10Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe. 1 Tes 5:10.
• Ons sal volkome soos Christus word.
2Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 1 Joh 3:2
• Ons sal van alle pyn en lyding verlos word.
4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Openbaring 21:4.


• Ons sal beloon word.
41“Elkeen wat vir julle ’n beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal beslis die beloning daarvoor kry. Dit verseker Ek julle.”Mark 9:41
• Ons sal in God se heerlikheid deel.
17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Rom 8:17

Die doop identifiseer ons met God se famielie:
26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword Gal 3: 26-27.

In Die Bybel Verklaar word die gedeelte as volg vertolk:
26: Teenoor die onmondige lewe van slawerny onder die toesig van die wet, staan die lewe as kinders van God, met al die voorregte en regte wat dit meebring. Dit is die lewe van vryheid deur die geloof in Jesus Christus (vgl. 4:1v.). Hier kom ’n interessante verandering van die eerste na die tweede persoon voor: die Christene uit die heidene hoor nou dat hulle almal kinders van God is. Die eervolle benaming “kinders van God” was in die gewone gang van sake vir die Jode gereserveer, en selfs hulle sou hierdie status alleen in die laaste oordeel van God self ontvang (vgl. 2 Kor. 6:18; Rom. 9:4,26). Dit is dus baie belangrik dat Paulus reeds nou al hierdie status aan die gelowiges in Galasië toeken (17,29; 4:6,7,22,30; Ef. 1:5).
27: Almal is nou kinders van God, want almal is deur die doop met Christus verenig. Alle soorte mense (vgl. 28) sonder onderskeid, het deel aan die genade van Christus. Hulle is gedoop “in Christus”, soos dit in die oorspronklike staan, wat beteken dat die gedoopte persoon met Christus verenig is en sy eiendom geword het, sy verantwoordelikheid is en deel in al sy weldade.

Groot vraag: Hoe kan ek ander gelowiges soos lede van my eie familie begin behandel?

No comments: