Sunday, August 24, 2008

Tema 4: Kleingroep

TEMA 4: Ek word soos Christus!
(Dag 22 - 28 uit Doelgerigte lewe.)

God is meer geïnteresseerd in wie jy is as in wat jy doen. Nie net het Hy jou na sy beeld gemaak nie (Gen 1:27), maar gee Hy sy Seun Jesus Christus om dié beeld wat deur sonde vernietig is, te herstel. Sy Gees is op hiérdié oomblik aan die werk (2 Kor 4:16) om my en jou te verander om al hoe meer soos Christus te word!

· Deel met mekaar dit wat jy die afgelope tyd beleef in jou fokus op die Woord, of die nadink oor Rick Warren se Doelgerigte Lewe, of die saamwees in die kleingroep.

· Lees 2 Kor 3:1-18 en dink saam na oor die volgende vrae en opmerkings:

o Die ‘sluier wat van ons gesigte af weggeneem is’ (v 14, 16, 18) impliseer dat ons nou iets verstaan wat ons voorheen nie verstaan het nie. Wat is dit? Wat is dit spesifiek in jou lewe? (vgl Ef 1:17ev)
Dit gaan hier daaroor dat dit die Heilige Gees is wat ons geestesoë (Ef 1:17ev) kom oopmaak het, of soos die Dordtse Leerreëls (een van ons kerk se belydenisskrifte) dit stel: “...dring Hy [die HG] deur tot die binneste dele vd mens, open Hy die geslote hart; versag Hy wat hard is en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend... Hy beweeg en versterk die wil sodat dit goeie vrugte kan dra” (hfst 3&4:11). Dis die Gees wat ons in die diepere waarhede inlei.

o Die woord ‘heerlikheid’ kom nie minder nie as 12 keer in hierdie gedeelte voor! Hoekom? Wat beteken dit om die heerlikheid van die Here te weerspieël (v 18)?
Dink hier aan die beeld v ‘n spieël wat die lig weergee van die groter lig (bv die son) wat daarop val. Maar eintlik is ons meer as ‘n spieël in die sin dat, anders as Moses se gesig wat geblink het na sy ontmoeting met God, ons nou “die lig van God” binne ons het (dink bv aan ‘n gaslamp wat aangesteek word en self brand). Weerspieël moet jou ook laat dink aan ons as Beeld v God (vgl Matt 5:16).

o Watter ‘hoop’ (v 12) skep hiérdié gedeelte by jou? Wat is die ‘vrymoedigheid’ wat dit jou gee?
Filp 1:6 – God wat die goeie werk in my begin het, sal dit voltooi! Dié nuwe / verandering / transformasie / heiligmaking wat Hy in my doen, is ALLES ‘n werk van die Gees! Daarom kan ek Hom vertrou! En kan ek in ‘n voortdurende verwagting leef dat God sal doen wat Hy beloof het!

· Rick Warren verwys in sy boek na 3 sake wat die Here gebruik om jou en my deur sy Gees te laat groei om al meer soos Christus te word. Gesels oor hoe dit prakties in jou lewe werk, of behoort te werk.
o Die Woord (vgl 2 Tim 3:1, Ps 119:11, Spr 22:17-18, Jh 8:31-32)
o Swaarkry en krisisse (Rom 8:28, 31ev)
o Versoekings (1 Kor 10:14, 2 Kor 5:10, Jak 4:6-8)

· Om meer soos Christus te word is ‘n groeiproses wat jou hele lewe gaan duur. Lees Filp 1:6 as gebed.

Shalom!
De la Harpe

No comments: