Saturday, August 9, 2008

Dag 7: Die rede vir alles

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. Romeine 11:36


Hoofgedagtes:
Soos reeds bespreek in voorafgaande gedeeltes is ons geskep om God te eer in alles wat ons doen: “elkeen wat na my Naam genoem word,elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het,wat Ek gemaak het. Jesaja 43:7
St. Iraneus se woorde; “God se heerlikheid is ’n mens wat ten volle lewe”, die vraag is seker dan, waneer lewe ek ten volle?
Die skrywer kom dan tot die volgende kern gedagtes, wat ook die kern temas vorm oor die volgende klompie weke:
Ons bring eer tot God deur hom te aanbid. – Ek laat God glimlag.
11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.
12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.
Romeine 6:11-14

Ons bring eer tot God deur ander gelowiges lief te hê. – Ek is deel van God se gesin.
34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”Johannes 13:34-35.
Hiermee volg die verduideliking soos in die Bybel in Praktyk:
13:34 Die gebod om mekaar lief te hê, was glad nie nuut nie (lees Lev 19:18), maar om ander mense so lief te hê soos wat Christus hulle het, was beslis nuut! Ons naasteliefde moet gegrond wees op Christus se liefde vir ons, en dit was só groot dat Hy die hoogste offer daarvoor gebring het. Sulke liefde sal nie net ongelowiges na Christus lei nie, maar ook dien tot versterking en vereniging van gelowiges in hierdie vyandige wêreld. Jesus was ’n lewende voorbeeld van God se liefde, net soos ons weer lewende voorbeelde van Jesus se liefde moet wees. Die “soos”-model van Jesus se liefde dien nie net as ’n voorbeeld nie maar is ook die dryfkrag wat al ons optredes moet inspireer.
13:35 ’n Onvoorwaardelike “soos”-liefde vra nie wat dit kan kry of inpalm nie maar wat dit kan gee, “soos” Jesus sy lewe gegee het. Dit is die intensiteit van ware liefde op alle terreine.

Ons bring eer tot God deur soos Christus te word.- Ek word soos Christus.
18Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. 2 Kor 3:18.
Bostaande wil ek graag in konteks plaas met die omskrywing in Die Bybel in praktyk maar ook kyk vanaf vers 14 –18.
3:14–18 Moses en sy sluier is vir ons simbool van die ou stelsel, waar-in die mense se harte agter sluiers bedek was. Die Jode se herkoms was soos ’n sluier van trots en hoogmoed wat dit vir hulle onmoontlik gemaak het om die verwysings na Christus in die Skrif te verstaan. By elkeen wat gelowig word, moet Christus die sluier van eiewaan en hoogmoed wegneem (3:16). Die Heilige Gees bewerk vryheid vir die gelowiges voor God en die mense, soos die sluier van Moses eers verwyder moes word voor God. Die gelowiges se sluier is verwyder deur die Gees om die heerlikheid van God te kan sien.
3:17 Die Here Jesus het die lewegewende Gees geword toe Hy uit die dood opgestaan het (1 Kor 15:45). Dit beteken nie dat Jesus nou van sy liggaam ontneem is of die Heilige Gees geword het nie, maar wél dat Hy ’n nuwe bestaansvorm aangeneem het toe Hy verheerlik is. Daarom kan Hy gelyktydig in die hemel én in die harte van gelowiges leef. Dit is moeilik om dié dinge te begryp, maar elkeen wat weet dat Christus binne-in hom leef, weet en aanvaar dat Hy in hom teenwoordig is.
3:17–18 Die heerlikheid wat die Gees aan die gelowige gee, is nog beter as dít wat Moses beleef het, en duur ook langer. As gevolg van dié heerlikheid van God wat deur ons as gelowiges raakgesien word nadat die Heilige Gees die sluier gelig het, word ons al hoe meer soos Christus. Dit is ’n proses wat geleidelik plaasvind (vgl Rom 8:29; Gal 4:19; Fil 3:21; 1 Joh 3:2). Hoe meer ons van sy heerlikheid sien, hoe meer sal ons soos Hy word. Dit is die werk van die Gees.

Ons bring eer tot God deur ander met ons gawes te dien.-Ons geskape vir diens.
7Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. 8Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 9Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. 10As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. 11As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen. 1 Petrus 4:7-11.

Verklaring soos in die Bybel in praktyk:
4:7–11 Die rede waarom Christus klaar staan om te oordeel en die implikasie daarvan. Met hierdie paragraaf wil Petrus die gelowiges daartoe motiveer om te volhard om die oordeel aan God oor te laat en nie die reg in eie hande te neem nie. Sy argument is dat die einde—wanneer die oordeel gaan plaasvind—nie ver is nie. Andersyds wil hy die gelowiges tot ’n spesifieke aksieprogram vir die tyd tot die einde aanspoor, naamlik om mekaar lief te hê, gasvry teenoor mekaar te wees, en mekaar met hulle genadegawes te dien.


Ons bring eer tot God deur ander van Hom te vertel.God stuur my.

Johannes 15:8 vorm vir my ’n verband met om God te dien met my gawes en daardeur ook visser van mense te wees:
8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

15Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer. 2 Kor. 4:15.

Graag wil ek afsluit met die volgende gedagtes:
· Bostaande is vir my ’n integrale legkaart;
· God en Liefde is sentraal,
· omdat ons deur genade gered is, poog ons om alles te doen tot God se eer, ten spyte van ons sondige natuur,
· ons straal liefde uit omdat ons die Gees in ons het,
· ons groei as kinders in God om meer soos Christus te word, “want God se liefde is so wonderbaar”,
· ons kan nie ons gawes onder ’n maatemmer wegsteek nie, en ons gebruik dit tot eer van God,
· daardeur is ons God se lig in die wêreld tot eer van God.

Bostaande word in nederigheid geskryf met diep afhanklikheid tot God se genade, liefde en leiding.

No comments: