Wednesday, August 6, 2008

Dag 5 & 6 : Die lewe uit God se perspektief…

Indie hoofstuk kyk die skrywer deur die bybel, God se oë, na waaroor gaan die tydelike lewe nou eintlik en kom tot die slotsom dat ons lewe op aarde deur drie metafore beskryf kan word naamlik: ’n toets, “trust” en dat die opdrag laastens tydelik is.

Die lewe op aarde as ’n toets, kan ook verwys na beproewing, versoeking en loutering. Dit kom dan ook duidelik uit die gedeelte dat hierdie ervarings in ons lewens eerstens bou aan karakter en tweedens ook ons karakter toets.

So ek kan myself afvra, wat het my vandag getoets en hoe het ek gereageer? As ek so terugdink deur die dag moet ek volgende keur sekerlik op die Heilige Gees staatmaak om my te lei deur die toetse, want deur myself is ek te lig in die broek.

Hoe gebruik ek elke toets om my karakter te laat groei tot verheerliking van God?

12Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Jakobus 1:12


Die lewe op aarde is ‘n “trust”, wat doen ek met dit wat God aan my toevertrou het my talente, gawes, bates? Die gelykenis van die munstukke is seker ’n goeie voorbeeld van wat doen ons met dit waaroor ons rentmeesterskap het. En Mat. 25:21 is dan ook ’n mooi vers om ons hieraan te herhinner:
21Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

Hoe sien die wêreld my elke dag? As ek die bostaande in my lewe elke dag moet uitlewe, en ek dra die “Brand” van Jesus uit in die wêreld, kan almal sien ek verteenwoordig DIE BRAND?

Die lewe is ‘n tydelike opdrag, die opdrag is egter dat ons ambassadeurs van Jesus moet wees terwyl ons hier vertoef en dat ons eersgenoemde opdragte hier moet uitvoer.

15En Hy het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.
16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.
20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. 2 Kor 5:15-21


Die prys is dis die ewige lewe:
16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.
2 Kor 4:18.

Die vraag is sekerlik aan myself, na watter wenstreep is ek elke oomblik van elke dag oppad?

No comments: