Sunday, August 17, 2008

Preek: Jy is deel van God se gesin.

17 Augustus 2008
Ds Rikus van Zyl
Inleiding:
Om ons roeping na te kom het ons verlede Sondag gehoor gaan daaroor dat ons God met ons lewe moet laat glimlag. Dit gebeur wanneer ek God liefhet met my alles.
“Gee julleself... As offers..”
“lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is”...

Ons gaan vandag kyk na Jy is deel van God se gesin.

Paulus skryf in Ef 2: 19: Julle = gelowiges is dus nie meer ver van God af nie… maar… lede van die huisgesin van God.

Gemengde gevoelens oor gesin / familie:
party keer trots, ander kere skaam.
Party dae goed om by hulle te wees, ander dae nie goed om by hulle te wees.

Ek wil fokus op die goeie kant van deel van gesin wees. Want ek dink gesinwees kan ons help om beter kerk van Jesus te wees.

Hoe gebeur dit dat ons deel van God se gesin geword het?
‘n Mens word deel van ‘n groep omdat jy sekere goed gedoen het:
• jy het ‘n persoonlikheid waarvan hulle hou
• jy beteken vir hulle baie
• jy het iets vir hulle gedoen
Nou gebeur dit maklik dat ons dink dit werk met God ook so: Hy het ons lief omdat ons iets gedoen het wat sy liefde verdien. Daarom word ons deel van sy volk, sy gesin.


Kom ons lees Ef 1: 3 – 11. Of dit waar is.
3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.
4. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.
5. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.
6. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.
7. Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God
8. wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.
9. Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak
10. en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.
11. Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

Soos ‘n refrein word dit herhaal: God se genade.
Volgens Sy genadige beskikking word ons deel van God se familie.

Ons kan niks doen om God se guns te wen om deel te word van sy gesin, om sy kinders te wees. Genadiglik is dit so. Iets van hierdie genade, sonder dat ek iets van my kant doen om God se guns te wen kom na vore in die verbondsdoop.

Reeds in die OT verbind God hom aan Abraham en sy nageslag en al hulle nageslagte om hulle God te wees. Hy gee vir hulle ‘n teken: die besnydenis. Met Jesus se koms word die teken verander na die doop in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. Betekenis van verbondsdoop:

• Bevestiging dat God ons in sy verbond insluit: genade
• God se verklaring aan ons, God se statement aan ons.: Ek wil jou God wees. Jy is my kind. Jy is deel van God se gesin.

As families het ons verskillende spesiale maniere van doen:
Groet: Nagsê
Spesiale name: Bokkie, duif,
Hierdie spesiale manier het daarmee te make dat ons vir mekaar omgee.

As deel van God se gesin, sy familie het ons ook ‘n spesiale manier van doen:
dit is om mekaar lief te hê.

Lees Joh 13: 34 – 35
Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
35. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is."

Joh 15: 12 – 17.
Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
13. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.
14. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.
15. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
16. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.
17. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!"

In die 2 gedeeltes: Nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Wanneer ons geleer het om God lief te hê: in die woorde van verlede Sondag om myself vir God te gee, is dit wat daarmee saamloop: dat ons sal leer om mekaar lief te hê.

Hierdie opdrag van om jou naaste lief te hê is veskriklik belangrik. In 1 Joh 5 word die liefde teenoor die naaste die toetsteen van jou verhouding met God, jou liefde vir God. As jy jou broer nie liefhet nie, het jy ook nie die Here lief nie. En hierdie liefhê is soos Jesus ons liefhet.
• Opofferend.
Volgens Joh 13: 1 het Jesus ons tot die uiterste toe lief. Hy word mens en sterf aan ‘n kruis in jou en my plek oor my en jou sonde. Hy gee alles: sy lewe. So moet ons liefde vir mekaar wees. Alles gee vir die nader een.

• Rom 15:7 Mekaar aanvaar soos Christus ons aanvaar het.
Wat beteken dit? Dit beteken dat ek Aanvaar word soos ek is, tsv my tekortkoming en foute. Dit is hoe Christus se liefde lyk. EK hoef nie altyd my beste voetjie voor te sit nie, myself anders voor te te doen as wat ek regtig is. Omdat die gesin van God, kerkmense die liefde van Jesus ken en verstaan, aanvaar hulle mekaar, het hulle mekaar onvoorwaardelik lief.
En dan word die gesin van God ‘n plek wat God dit wil laat wees: ‘n veilige plek om te lewe. ‘n Hawe teen die storms van die lewe.

• Hierdie mekaar liefhê moet natuurlik nie verwar word met sentimentaliteiet nie. Hierdie liefde is nie ‘n oppervlakkige liefde, ‘n gevoel van toegeneentheid nie. Dit is ook nie ‘n opwelling van medemenslikheid nie; dit gaan oor ‘n verbintenis wat ‘n mens maak. Dit beteken dat ons mekaar nie gaan los nie: nie as ons met mekaar verskil oor hoe dinge gedoen moet word nie,
Nie as ons mekaar te na gekom het nie
Ook gaan ons mekaar nie los nie selfs as ons mekaar nie in die oë kan kyk oor die sonde wat ons gedoen het nie.

In hierdie verbintenis is dit die liefde van Jesus wat ons bymekaar hou.
In ons liggaam is daar ‘n molecule met die naam laminin. Hierdie molecule hou al die selle in ons liggaam bymekaar. Dit is die gom van ons selle. Hierdie gom molecule is in die vorm van ‘n kruis.
Die gom van ons verhoudings is ook ‘n kruis: die kruis van Jesus.

Wese van liefde:
• is nie wat ons van ander dink nie / vir ander gee nie.
= hoeveel ons van onsself gee. Eie belange is ondergeskik aan die
belange van die ander een.
Kosbaarste wat ons van onsself kan gee is ons tyd: tyd om daar te wees. Tyd om te luister. Tyd om te doen.
En weet julle wat gebeur in ‘n gemeente wanneer mense vir mekaar leef?

Gemeente word ‘n plek waar ek gemaklik myself kan wees. ‘n Plek waar mense omgee vir mekaar en mekaar bemoedig en mekaar vergewe en mekaar help en daar is vir mekaar. En dan sê die wêreld: Woh! Ons wil deel wees daarvan. Dan word Joh 13: 35 waar: mense kan sien dat ons dissipels van Jesus is.

Ongelukkig ly ons nog te veel aan “ek”sugtigheid. Me, myself and I, dit is al wat saak maak. What’s in it for me? Wanneer ek eksugtig is dan is daar geen liefde nie.
En dan gebeur dit dat die gesin van God as koud en onpersoonlik beleef word. Dit is dan wanneer mense sê: die kerk is nie ‘n lekker plek om te kom nie. Met eksugtigheid verander verskille in geskille. En dan bly mense weg en loop selfs weg.
Watter rol speel jy in die gemeente?


Slot.
My verhouding met God is persoonlik maar nie privaat nie. Daarom maak God ons deel van sy gesin.
Ek en jy is deel van God se gesin; ons is bloedfamilie van mekaar. God se wens; Nee kom ek sê dit sterker: God se opdrag aan sy gesin is: Wees vir mekaar lief!
Liefde bind ons aanmekaar.
Amen.

No comments: