Saturday, August 30, 2008

Dag 26 & 27 : Groei deur versoeking

By Dag 22 het ons stil gestaan en gekyk na hoe my karakter moet lyk as ek meer soos Jesus wil word. Ons het ook gesien oor die afgelope paar dae dat ons groei in die geloof deur “toetse”, nou gaan ons stilstaan en kyk na die impak van versoekings op ons lewe...

12Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.
13Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. 14Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. 15Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.
16Moenie julleself mislei nie, my liewe broers. 17Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. 18Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het. Jakobus 1: 12-18

Die Bybel in praktyk verklaar die gedeelte as volg :

1:12 Die oorwinningsprys vir die een wat standvastig bly. Na die onderbreking oor die tekortkoming van wysheid (1:5–8) en rykdom (1:9-11), hervat Jakobus sy gedagtes oor die feit dat mens se geloof getoets word. Die beeld waarmee hy hier werk, is dié van iemand wat aan ’n atletiekwedloop deelneem. Die deelnemer moet tot by die wenpaal verby aanhou hardloop om die oorwinningsprys te ontvang. Vir die gelowige is dit die lewe, die ewige lewe. Gelukkig hang dit nie van ons af of ons sal kan volhard nie, want “omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring” (1:18). Jy kan dus met vertroue aan jou lewenswedloop deelneem, in die wete dat jy die wenpaal sal bereik en die oorwinningsprys sal ontvang.
1:12 Daar is ’n groot verskil tussen beproewings en versoekings. Versoekings het nie ten doel om die egtheid van jou geloof te toets nie of jou volhardingsvermoë te oefen soos die geval met beproewings is nie. Versoekings is ’n verleidingspoging, ’n poging om jou op die gly-baan te laat sit wat jou in die hel gaan uitspoeg.
1:13–15 Waar versoekings vandaan kom. Die gelowiges sou mak-lik die gedagtesprong kon maak om te sê dat dit God is wat al die teëspoed en swaarkry oor hulle bring, en daarom spel Jakobus nou duidelik uit waar versoekings vandaan kom. Eers stel hy duidelik dat mens nie die skuld vir God moet gee nie (1:13). ’n Mens sou verwag dat hy die skuld vir die duiwel gaan gee. Hy doen dit egter nie, maar wys met sy vinger reguit na die gelowige, na jou. As jy verlei word is dit jóú skuld! Dit is jyself wat aan jou begeertes toegee. Moenie jou probeer verontskuldig deur die skuld vir die duiwel (en dus vir God), of vir enigiemand anders te gee nie.
1:14–16 Jakobus skets hier jou begeertes as ’n persoon, as ’n slegte vrou wat jou seksueel uitlok. Die beeld laat blyk dat ’n versoeking uit drie fases bestaan: (1) Jy wil ’n verkeerde ding doen, maar jy het nog nie die besluit geneem om dit te doen nie; die slegte vrou (jou begeerte) lok jou uit en wil jou bed toe sleep. (2) Die oomblik wat jy die besluit neem om die verkeerde ding te doen, het jy saam met die slegte vrou (jou begeerte) in die bed geklim, en deur die seksuele gemeenskap het sy bevrug geraak en die babatjie wat gebore word (jou verkeerde daad of woorde), is sonde. (3) Die babatjie (sonde) dra self klaar ’n embrio in hom rond, naamlik die ewige dood. As jy die babatjie (jou sonde) nie klein nek omdraai nie, gaan die embrio ontwikkel en as hy eers gebore is, is dit te laat. Dan is daar nie meer omdraaikans nie. Jou eie begeertes is dus soos ’n slegte vrou wat alles in haar vermoë doen om die ma te word van ’n “sonde”- babatjie. Wees bedag op haar, leer haar goed ken, en moenie aan haar slinkse uitlokkings toegee nie.
As daar nou sondes in jou lewe is, stop onmiddellik daarmee, voordat hulle aan die dood geboorte gee. (Vgl Matt 4:1–11, 1 Kor 10:13 en 2 Tim 2:22 vir meer omtrent die wyse waarop ’n mens aan versoeking ontkom.)
1:16–18 God se rol in die gelowige se lewe. In 1:13 het Jakobus gesê wat God nie doen nie, en nou verduidelik hy watter rol God wel in die lewe van die gelowige speel. Hierdie verse laat duidelik blyk dat God nie ’n kwaadwillige is wat net op die uitkyk is om jou te versoek nie. Inteendeel, Hy gee alles wat nodig is om onder beproewing te volhard, en om versoekings te weerstaan.
1:17 Lig is dikwels simbool van goedheid, terwyl donkerte simbool van die bose is (vgl ook Ps 27:1; Jes 60:19–22; Joh 1:1-14).
1:17 Baie mense dink dat hulle lewens deur die stand van die hemel-ligte (sterre) bepaal word. Hierdie vers laat blyk dat geen gelowige ooit sodanige standpunt kan hê nie, want ons Here het die einste hemelligte geskep. Dit is net Hy wat jou lewensgang bepaal, en nie sterre nie.
1:18 In hierdie woorde lê daar groot troos. God het jou sy kind gemaak, en daarom kan jy met vertroue onder beproewing volhard en versoekings weerstaan. God se besluit, sy wil, gee jou die sekerheid, want Hy verander nie.

Hoe word ons deur satan versoek:
Begeerte word geidentifiseer satan in ons, “Ons gedates”: Mark 7:21-23
Twyfel word geskep deur satan, “Is dit werklik sonde?”, Hebr 3:12
Die sonde word verdoesel, satan is tog die vader van die leen, Joh 8:44
Onthou gedagtes word gedrag.

Hoe oorwin ons versoekings:
Ons staan sterk in Christus en sal nie geintimideer word, 1 Kor 10:13
Herken jou versoekings patroon. Ons moet bewus wees wat ons swak punte is en tweedens risiko areas vermy so ver as moontlik. 1 Pet 5:8
Vra altyd God se hulp. Hebr 4:16


22Vermy die begeertes wat ’n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ’n rein hart die Here aanroep.2 Tim 2:22




Hoe verslaan ons versoekings:
3Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. 1 Kor 10:13

Fokus op iets anders – As ons nie daaraan dink sal dit weggaan, Ps.119:37
Ons moet ’n ondersteunings groep, vriend of vriende hê.
Weerstaan die duiwel, hy is reeds oorwin,
7Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.
Jakobus 4:7
Gebruik die skrif as jou rots en vaste hoop.
Ons moet ons kwesbaarheid besef. Spreuke 14:16

No comments: