Saturday, September 6, 2008

TEMA 6: God stuur my!

TEMA 6: God stuur my!
(Dag 36 - 40 uit Doelgerigte lewe.)

In Joh 20:21 sê Jesus aan sy dissipels na sy opstanding, “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook”. Daarom tree ons in die woorde van 2 Kor 5:20 as gesante van Christus op. Die sending wat Jesus op aarde gehad het, is nou ons sending! Ek en jy is gestuurdes van God!

· Gedurende die 40 DAE van DOELGERIGTE LEWE het ons geleer van God se 5 doelwitte met ons lewens op aarde. Hy het my gemaak om ‘n lid van sy familie te wees; om ‘n model van sy karakter te wees; om sy glorie te vergroot; om ‘n bediener van sy genade te wees; en om ‘n boodskapper van sy Blye Boodskap aan ander mense te wees. Gesels met mekaar oor die belangrikheid van die 5de doelwit in die lig daarvan dat dit al een is wat NET OP DIE AARDE kan geskied.
Die klem moet hier val dat ofskoon die ander 4 doelwitte net só belangrik is, hulle almal oploop na die 5de doelwit as die hoogtepunt van “wat op aarde doen ek hier?” – dws my doel hier op aarde.

Lees 1 Kor 9:16-27 en gesels oor die vlgde opmerkings:
· Beteken die gedeelte dat Paulus nou glad nie meer ‘n Jood is nie? Waarin vind Paulus sy ware identiteit? (vgl ook Filp 3:4-11)
Paulus hou defenitief nie op om ‘n Jood, of Hebreeus-sprekende te wees wat in die Joodse wet geskool is nie. Ek sou selfs so ver gaan as om te sê dat dié sake sekerlik nog vir hom kosbaar was. Die punt is: dié goed bepaal nie eens naastenby wie hy werklik is nie – dws sy ware identiteit. Hy is ‘n deur God-gestuurde, en het die vryheid om gemaklik heen en weer tussen sy ander indentiteitsmerkers (d.i. sy Joodsheid, ens) te beweeg sonder dat dit hom bind. Hy word net gebind deur sy indentiteit in Christus as ‘n gestuurde.

· Gesels met mekaar oor wat Paulus bedoel as hy in vers 21 sê dat hy “onder die wet van Christus” staan.
Om “onder die Joodse wet” te wees, beteken om absoluut daardeur gebonde te wees. Dit en dit alleen bepaal jou lewe. In teenstelling daarmee is om “onder die wet van Christus” te wees, om Christus te gehoorsaam en wat Hy gedoen en geleer het, na te volg. Waar die Joodse wet onderdrukking, afskeiding en vermyding van die wat anders is tot gevolg het, maak die navolging van Christus mens juis vry om oop te wees vir ander en by hulle betrokke te raak.
· Wat beteken het die frase, “love them till they ask you why” vir die hele begrip van ‘n gestuurde deur God? (vgl 1 Pet 3:15-16)
Om vir mense tromp op te gaan staan en “preek” om hulle “harte vir die Here te gee” gaan waarskynlik nie baie sukses hê nie. Mens sou eerder vanuit die liefdesgebod (vgl Jh 13:35) op só wyse met mense moet omgaan dat hulle die waarheid van wie Jesus is in jou lewe sien en jy só die reg kry om met hulle oor Jesus te praat.
· Gesels saam aan die hand van Hd 1:8 oor die implikasies van ‘n gestuurde van God wees.
Getuie / gestuurde in Jerusalem: hier waar jy woon en elke dag beweeg – en dus mense en situasies met wie jy fisies in aanraking kom. In Judea: die groter area van jou stad / provinsie – waar jy nie so gereeld kom nie – nie met almal fisies in aanraking kom nie. In Samaria: in die groter SA (ook Afrika?) waarvan jy dalk heelwat weet wat aangaan – maar waar jy nie self mee fisies kontak het nie. Die uiteindes van die wêreld: presies soos dit sê. DINK AAN PRAKTIESE MANIERE WAT JULLE GROEP KAN DOEN OM GESTUURDES IN AL HIERDIE KONTEKSTE TE WEES.

Verbind julleself daaraan om bewustelik en prakties as God se gestuurdes in hiérdié wêreld te gaan leef.

Shalom!
De la Harpe

No comments: