Sunday, September 7, 2008

Preek : Tema 6 : God stuur my!

40 DAE: Tema 6
1 Korintiërs 9:16-27
“God stuur my!”
Intro
Wie is jy?... Wat is jou IDENTITEIT?... 69061951****... NEE, nie jou ID no nie.. Ek soek ook nie jou personeelno, of studenteno, weermagno, of selfs belastingno nie. JY is meer as dit!
Afr / Eng?, Blank / Nie-blank?, ‘n Vrystater?, Suid-Afrikaner?... NG lidmaat?... NEE, jy is nog meer as dit!

Wie is jou?... Wat is jou IDENTITEIT?... [WYS DIE SILHOEET VD MANNETJIE IN DIE PRENTJIE]

Ek & Jy is Gestuurdes!...

Die afgelope klompie weke is ons heeltyd besig om te kyk na ‘Wat op aarde doen ons hier?’ – wat is ons doel? Ja, ons is hier om God te laat glimlag... Ja, ons is hier om deel v God se familie te wees... Ja, is ons hier om al meer soos Christus te word... Ja, ons is hier om deur Godge-SHAPE te word vir diens... MAAR HOEKOM?

OMDAT Ek en Jy Gestuurdes is! Ons het ‘n opdrag van die Here God gekry en DIT MOET ons gaan doen – maak nie saak wat nie! En ofskoon die fynere detail daarvan in elkeen van ons se lewens anderste lyk, is ons opdrag basies dieselfde as dié van Paulus van ons TEKS...

“...EK verkondig die evangelie omdat ek moet! En wee my as ek dit nie doen nie” (1 Kor 9:16a)

Of soos hy ook sê in 2 Kor 5:14, “Die liefde van Christus dring ons...”

Jy sien, toe die Here Jesus Paulus se lewe die dag op die pad na Damaskus (Hd 9) kom aanraak en totaal kom omkeer het, het ALLES vir hom verander! Van nou af was dit nie meer wat hy wou of nie wou doen nie... Hy was uitverkoop / sold out die liefde, die wil, die roeping van Jesus Christus!

Daarom kan hy sê in Filippense 1:21, “want om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins” .

Paulus is GEDRYF deur dié alles-oorheersende passie! Hy was ‘n Gestuurde en NIKS was belangriker nie!

Daarom praat hy ook in ons TEKS, verse 24-27 – as hydie beeld van ‘n atleet en bokser gebruik – van ‘n doelgerigtheid, ‘n fokus, ‘n dissipline!... Alles net om sy roeping as ‘n Gestuurde uit te leef en te vervul!

Mens sou met reg vir hom kon vra of dit dan nie maar net soos die ou Joodse wet, ‘n ‘nuwe ongenaakbare dwang’ is nie?... ‘n tipe van ‘n sware slawerny nie??...

MAAR Paulus sê baie duidelik in hiérdié deel van die Brief, dat hy deur die Evangelie van Jesus Christus juis vry is!...

“Is ek nie vry nie?...” (1 Kor 9:1a) EN “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie,...” (1 Kor 9:19)

En dis JUIS vanuit hiérdié VRYHEID dat hy dan KIES om homself onder God te stel – diensbaar, gewillig, oorgegewe. Maar nie net onder God nie – ook onder mense, om JUIS hulle twv die Evangelie te dien!

“...het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen” (1 Kor9:19)

Paulus sê dan in vers 21 hy doen dit, omdat hy “onder die wet van Christus” staan.

Maw – in stede daarvan om aan die Joodse wet of enigiets anders ondergeskik te wees, stel hy homself gewilliglik ondergeskik aan DIT wat Jesus wil hê. Om vir Jesus te gehoorsaam / na te volg / sy wil te doen / sy moraliteit / sy voorbeeld – is vir Paulus die hoogste diens!

En soos Jesus betrokke was in die wêreld / by mense – deur te help / te genees / te red / te herstel / met liefde en genade te om-arm... Wil Paulus ook. Soos iemand dit stel: dit gaan hier vir Paulus om ‘n etiek van betrokkenheid vs ‘n etiek van vermyding – die etiek van Jesus teenoor die etiek van die Joodse leiers, die Fariseërs.

Dis interessant dat die naam “Fariseër” juis beteken “om af te skei”... om eenkant te hou. En dit was dan ook hul hoogste strewe. Juis om die suiwerheid van hulle oorgelewerde leer en waardes te bewaar, het hulle allerhande reëls en uitgebreide verordeninge ingestel om hulle van die algemene bevolking, die ‘gepeupel’ af te skei! Hulle IDENTITEIT is bewaar deur ‘n etiek van vermyding, en die trek van allerhande grense.

Wat van jou IDENTITEIT?... Jou geestelike IDENTITEIT as kind van God?... Is jy onder die ‘wet van Christus’ met ‘n etiek van betrokkenheid?... Of is jou IDENTITEIT dié van die Fariseërs? – een van vermyding van ander?... die trek van grense?...

Vir Paulus was daar nie eens ‘n vergelyking tussen die twee nie! “...Ek het my aan almal diensbaar gestel om soveel as moontlik mense vir Christus te wen” (vers 19). Vir die Jode – soos ‘n Jood... Vir die onder die wet – onder die wet... Vir die sonder die wet – sonder die wet... Vir die swakkes - swak... Vers 22,“Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red”...

Beteken dit dan dat Paulus ‘n manterdraaier ? / ‘n verkleurmannetjie ? / ‘n tweegesig? was?... Dat hy skaamteloos links en regs – na gelang van by watter groep hy is – sy beginsels sommer kon prysgee?...
Nee, verstaan mooi. Die Joodse wet en kultuur met al sy regulasies en ordes was nie enigsins vir hom beginselsake nie. Hy was JUIS bevry uit die doolhof daarvan! Dit was vir hom niks meer as blote gebruike nie waaraan hy geensins gebonde was nie. Sy BEGINSELS wat hy nooit sou prysgee nie, was gesetel in sy IDENTITEIT in Jesus Christus!

Hy was ‘n GESTUURDE!...

Net só is jou en my IDENTITEIT – ongeag ons kultuur of konteks, ook dié van ‘n GESTUURDE! Maak nie saak waar jy jou bevind nie... Of dit nou by die huis / werk / skool / tussen jou vriende is... Waar jy ookal beweeg, jy is ‘n Gestuurde! Jy is soos Matt 5:13 sê “die sout van die aarde wat die regte geur geen aan hierdie wêreld!”

Besef jy dit?... Is jy bereid “om te gaan” en juis DIT te wees?... Of wil jy jou dalk soos die Fariseërs van ouds eerder van ander afskei?... Eerder grense om jou trek?... Ander eerder vermy as om betrokke te raak?...

Het jy ‘n passie vir God se stukkende wêreld?... Vir mense wat sonder Jesus Christus leë sinlose lewens lei?...

Sout beteken niks as dit in die veiligheid van die ‘soutpot’ bly nie. Dit moet juis daar kom waar dit die grootste verskil kan maak / die grootste effek kan hê! Ek en jy moet as Gestuurdes nie maar net van dag tot dag leef en met ons eie goedjies aangaan nie... Ons kan nie! Ons moet bewustelik met God se oë / sy insig na die wêreld waarbinne ons beweeg kyk... Dit sien soos Hy dit sien... En dit met sy liefde en genesing aanraak soos Hy dit wil!

Vers 22, “Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red”...

Wat is dit wat in JOU KONTEKS / JOU wêreld stukkend en seer is?... Wat lê die Heilige Gees op jou hart?... Miskien in jou familie?... Daar waar jy werk?... Mense of situasies waarmee jy in aanraking kom?... Dit wat swaar op jou hart lê... Weet dan, jy is God se Gestuurde in dié situasie! Gaan DIEN.. Gaan leef onvoorwaardelike liefde en aanvaarding in dié situasie – totdat hulle jou vra “waarom” en jy – in die woorde van 1 Pet 3:15 gereed kan wees om ‘n antwoord te gee van die hoop wat in jou leef!
Jy sien, op die lange duur is NIEMAND bestand teen konstante volgehoue Godsliefde nie!

Ken jy die beeld van die glas met water op die tafel? Soos die glas voller en voller word, loop die water eers op die tafel uit, en van die tafel op die mat, en van die mat uit by die deur na buite toe. Die bedoeling van die water is nie om in die glas te bly nie. Dit moet buite kom – want daar is dit só nodig omdat dit só droog is!

En dis presies die beeld wat ons gestuurdheid in hierdie wêreld die beste uitbeeld. Soos Hand 1:8 sê, ons moet tegelykertyd gerig wees op ons Jerusalem – Judea – Samaria – EN die uiterstes van die wêreld. Dis nie ‘n of / of situasie nie. Die water kan nie buite kom sonder om eers oor die tafel en die mate te loop nie. Net so kan die water nie maar net in die glas, of net op die tafel of die mat bly nie. A dit die regte lewendgewende water is, loop en loop en loop dit!
Só sal ons gestuurdheid ook ‘n effek moet hê tot aan die uiterstes van die aarde!

Wow! Wat ‘n wonderlike roeping!! Saam met Paulus wil ek sê dat daar niks anders is wat ek wil doen nie! Ek wil die evangelie verkondig omdat ek nie anders kan nie! Ofskoon ek vry is en van niemand afhanklik nie, wil ek my aan almal diensbaar stel om soveel as moontlikmense vir Christus te wen! (vers 16 & 19). Dis my IDENTITEIT!

Wat van jou?

Wie is jy?... Wat is jou IDENTITEIT?...

Kies vandag om ‘n Gestuurde van God te wees in jou wêreld! GAAN!!

“God stuur my en jou!”
Amen.

No comments: