Sunday, September 21, 2008

PREEK : 21/09/2008 : WIE IS EK?

“Wie is EK?”
Markus 8:27-9:2

INTRO
** Een vd lekker goed in my bediening hier – om te vra in byna elke persoonlike gesprek (of dit nou doopkategese, huwelikskategese, krisis hantering, reg maak vir belydenisaflegging, ens): Wie is Jesus vir jou?...
En dan is dit lekker om te luister / te hoor – uiteenlopende antwoorde / invalshoeke van mense. Maar die EEN DING waarvoor ek elke keer geluister het en gesoek het, was ‘n teken dat Jesus ‘n werklikheid in jou lewe moet wees! (“real”)… Dat – maak nie saak hoeveel leemtes en eensydige verstaan daar dalk v Jesus is nie – dit gaan daaroor dat ‘n lewende persoonlike verhouding met Hom het!
TEKS – Jesus al ‘n hele tyd saam met sy dissipels – Hulle het ook ‘n persoonlike verhouding met Hom gehad. Hulle het tot op hierdie stadium al heelwat saam beleef en ervaar –positiewe & negatiewe ervarings [vgl 8:21, Verstaan julle dan nog nie?]
En nou vra Jesus hulle – al kom hulle al so lang pad saam - Wie sê julle is Ek?... Want dit gaan om veel meer as net wat hulle van Hom verstaan en glo… Dit gaan ook ten diepste wie hulle self is… want Hoe jy Jesus verstaan, bepaal hoe jy jouself verstaan!
TEMA daarom dubbelsinnig: Wie is EK? – 1) Jesus, maar ook 2) ekself…

Hoe ek oor MYSELF dink…
Baie van ons kom uit ‘n kerklike agtergrond (so geleer in kategese, huis en skool) – Ons is verlore sondaars… Ons verdien niks… Ons is eintlik op pad hel toe – SLEGS deur Jesus se genade gered, en dus geredde sondaars. Is natuurlik waar!
MAAR – die afleiding wat ons toe gemaak het en waarvlgs baie van ons geleef het en ons verhouding met die Here hanteer: Ons is NIKS… Ons beteken NIKS… God het eintlik regtig geen rede om ons enigsins lief te hê nie… daar is NIKS in ons wat dit regverdig nie… En dan moet ons eintlik maar met geboë hoofde en krom ruê sonder glimlag en swaarmoedig deur hierdie lewe gaan…
Maar dit is natuurlik nie waar nie! Kyk maar na die gedeeltes in die Bybel oor God se liefde vir ons as mense – na die oorwinning in Xtus wat ons s’n is!... Die krag vd HG in ons lewens! Genadiglik het baie gelowiges DIT begryp en lewe opgewonde lewens!
Ongelukkig het die pendulum nou na ander kant toe oor geswaai. Só opgeneem en meegevoer met wat ek en jy in Christus is, word die kruis en die volle betekenis daarvan ongelukkig té maklik agtertoe geskuif…
Maar DIE KRUIS – en welliswaar die leë kruis! – is dit waaroor dit gaan! Saam met Paulus wil ek uitroep: Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor 2:2)
Kruis – beteken lyding, smart en dood... En dis nie altyd lekker om lyding en dood besig te wees nie... Nie vir ons nie, en ook nie vir dissipels van ons TEKS nie.

Die verkeerde verstaan v Jesus
TEKS – v 31ev... staan bekend as die 1ste lydensaankondiging (daar is 3). Klaarblyklik het Jesus nou vir die 1ste keer duidelik en reguit vir sy dissipels kom sê DIT wat Hy eintlik kom doen het: lyding – verwerping – sterwe – 3 dae later opstaan...
Maar hulle wou dit nie hoor nie. Lyding en sterwe was nie vir hulle aangename begrippe nie... Dit was nie waarom hulle vir Jesus gevolg het nie! Hulle het eerder die hoop gehad dat Hy soos ‘n Dawid van ouds ‘n magtige koning in Jersusalem sou word en al Israel se vyande sou verjaag! Hoe kan Hy dan nou sê dat Hy moet gaan staan en gemartel, verwerp en doodgemaak word??!... Miskien verstaan Hyself nie so mooi nie?... En daarom vat Petrus Hom opsy om “Hom reg te help”... net weer te fokus... Hom net weer te help om die regte perspektief te kry... om die “ware missie en doelwitte” te verstaan... Die verkeerde verstaan van Jesus...
Dis nou vir my en jou maklik om ons koppe vir Petrus te skud... “Ai ai, Petrus...”. Maar Petrus as leier vd dissipels tree eintlik namens hulle almal op.. Nie net namens hulle nie – hy staan ook as simbool / as tipe vd volgelinge van die Here Jesus deur alle eeu heen... Dis ook ek en jy wat baie keer (onbewustelik?) as’t ware vir Jesus wil “reghelp”...
Here, jy moet nou hierdie gemors in my lewe kom uitsorteer [maak nie saak dat ek en jy dit self veroorsaak het nie...]...Here, verander bietjie dinge in ons land, in ons wêreld... Here, vat die misdadigers en skelms vas! Dryf hulle uit! Vernietig hulle! Maak dat ons weer in vrede en gemak en veiligheid kan lewe! - soos ons gewoond was in “die goeie ou dae”... Here, laat ons ryk, gesond en suksesvol wees!...
Hoe dan nou? Hoekom doen U dit nie?... Dit moet mos!?...
Dis opvallend dat die dissipels net soos ons met dieselfde goed geworstel het. By beide Jesus se 2de en 3de lydensaankondigings (vgl Mk 9:30ev met 33-37 & Mk 10:32ev met 35-45) stoei hulle steeds met hulle verstaan van Jesus... Steeds is dit hulle wat eer en heerlikheid en mag en sukses wil hê as volgelinge van Jesus... Die kruis en lyding en dood staan hulle nie aan nie...
Ja, hulle het al die regte goed gesê. Hulle het bely dat Jesus die MESSIAS (die Hebreeuse woord vir “gesalfde” wat ons ook as ‘Christus’ – Grieks – ken). En dis reg! Maar dis een ding om iets te bely. Dis ‘n ander ding om dit wat jy bely só te glo, dat jy dit lewe.
[** Dink maar aan die bekende Apostoliese Geloofsbelydenis waarmee ons vanoggend se dien begin het. Ons glo dit! Maar leef ons dit?...]
Teenoor die algemene mening dat Jesus net ‘n besonderse profeet wees (v 28), bely die dissipels (en dus die kerk) dat Jesus die MESSIAS / die CHRISTUS is! – en dus die Seun van God wat sy lewe moes kom gee vir ‘n sondige wêreld! Maar in praktyk soek ons ook eintlik maar niks meer as ‘n besonderse begaafde mens wat vir ons voorspoed en veiligheid en sukses sal gee nie... En Jesus sê NEE!... Wyk van My Satan!
Hoor jy die geweldige sterk woorde? – “satan” = teenstander... Hoor jy hoe onverbiddelik Jesus daaroor is?... Hoor jy hoe Hy sonder om te skroom vir sy dissipels en dus ook vir my en jou – sy volgelinge, sy geliefdes, sy eie Kerk wat Hy ten duurste met sy kosbare bloed gekoop het, sê: NEE! Moenie My teenstaan nie!...
Om aan Jesus te behoort / om sy volgeling (dissipel, kerk) te wees, gaan daaroor om v 34, jouself te verloën, jou kruis op te neem, en Hom te volg. Of soos Die Boodskap vertaling dit stel: Dit is soos om jou eie kruis na jou dood toe te dra as Ek [Jesus] dit van jou vra. Dit is soos om jou eie doodsvonnis te teken.
Dit gaan oor KRUISDRA...
Kruisdra
En KRUISDRA is defenitief nie die alg siening as sou ons “kruise” die ongerief, kwale of alledaagse krisisse (hoe swaar en moeilik ookal) van elk dag wees nie. Nee, KRUISDRA is swaarkry en verwerping ter wille van Christus.
En daarmee word nou nie bedoel ‘n soort sadistiese masochisme nie – waar mens doelbewus daarna soek en jy jou genot put om swartgallig en onplesierig in hierdie wêreld te wees nie. Die klem moet dus nie val op lyding nie, maar op die totaal radiale committed gehoorsaamheid en navolging van Jesus. Dit is KRUISDRA.
Jy sien, Jesus het – ofskoon Hy as die 2de Persoon in die goddelike Drie-enigheid – al die eer en heerlikheid en aanbidding waardig is, Hom in die woorde van Filp 2:7 Homself kom verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem – lett: “Homself van Homself kom leegmaak” – en mense kom dien. Met onvoorwaardelike liefde en compassion, in sy eie weerloosheid, het Jesus uitgereik na alle mense... ongeag wie en wat hulle was. Selfs al verwerp hulle Hom. Selfs al gee hulle Hom geen erkening of aanmoediging nie – gooi wat Hy doen en sê in sy gesig terug. Selfs al bespot en martel hulle Hom, het sy liefde en omgee nooit opgehou nie. [Vgl Luk 23:34 toe Hy daar sterwend aan die kruis hang, Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie...]
Hoe meer ek en jy besef dat DIT is WIE en WAT Jesus is, hoe beter sal ons ook vorder op hiérdié pad om dié kruis op te neem en Hom hiérin te volg.
Dit beteken dat ek en jy ook soos Jesus onsself daagliks van ons self – ons eie voorveronderstellinge / behoeftes na gemak en emosionele veiligheid.. behoeftes na ‘geestelike sukses’ en dit wat ons wil hê... hoe ons wil hê die lewe en ons lewe moet uitwerk... Ons moet ons deur sy genade en die krag van die Heilige Gees in ons, daarvan losmaak / leegmaak. Ons sal onsself daagliks moet gaan vra dat die Here vir ons geleenthede moet wys waar ons in ons eie swakheid en kwesbaarheid spreekwoordelik “ander se voete kan gaan was” – selfs sonder enige erkening of positiewe reaksie... selfs al word dit in ons gesigte teruggegooi... Met Jesus het hulle net só gemaak. Dit is KRUISDRA. Dit is wat dit beteken om Jesus regtig te volg en sy kerk te wees!
En ofskoon dit verskriklik swaar en erg lyk en kan wees, het dit die allerbeste waarde omdat dit my werklik vry maak en my in ‘n persoonlik verhouding aan Jesus Christus verbind! Dan is die “koninkryk van God” – daar waar Hy regeer en heers, nie net besig om in my en jou wêreld te midde van smart en sonde te kom nie, maar om ook IN ONS waar te word!

SLOT
Die Here kom vra vanoggend vir my en jou: Wie is EK?... 1) Gaan oor WIE en WAT Jesus vir jou is... Maar dis ook ‘n vraag wat ek en jy vir onsself moet vra: Wie is ek?.. Wie is ek as volgeling van Jesus?...
Kom ons antwoord Hom saam met die volgende verbintenis:
Here, U is die Een wat U bestaan op Godgelyke wyse nie beskou het as iets waaraan U Uself moes vasklem nie.
Here, het Uself kom leegmaak van Uself om in U weerloosheid sondige mense soos ek te kom DIEN, en ons van onsself te bevry!
Sodat in u Naam elkeen wat in die hemel en op die aarde is, die knie sal buig, en elke tong sal erken: U is die Here!
Here, deur u krag en deur u genade wil ek U kom eer en aanbid.
Maar Here, ek wil daagliks ook myself verloën, u kruis opneem, en U in weerloosheid volg deur te DIEN - maak nie saak wat dit my kos nie.
Want Here, ek is U s’n, en u koninkryk is besig om met krag in my aan te breek!
Amen.

No comments: