Sunday, September 21, 2008

KLEINGROEP - WIE IS EK?

NGK Fichardtkruin Kleingroepmateriaal
Week: 21 – 27 Sept 2008
“Wie is EK?”
Gesels met mekaar oor die afgelope kwartaal. Wat staan vir jou uit in dit wat die Here jou opnuut geleer het? Wat beleef jy is die Here se leiding vir a) jou eie lewe; b) jou kleingroep; en c) ons gemeente? Gee genoeg tyd vir elkeen om te deel en om ook as groep saam hieroor na te dink. Dra wat julle by mekaar en by die Here hoor, in gebed op.
Lees Markus 8:27-9:1
· Gesels ‘n eerste rondte met mekaar oor “wie is Jesus vir my?” Luister na mekaar en probeer verbande sien tussen wat elkeen sê.
Die doel van ié gesprek is aan die een kant om net verwonderd te wees en dit te vier dat die Here Homself op verskeie maniere (met in ag neming v elkeen se eie persoonlikheid en omstandighede) aan mense openbaar. Aan die ander kant is dit belangrik om ‘n goue lyn raak te sien dat Jesus vir mense ‘n werklikheid is!
Uit die teksgedeelte is dit duidelik dat dit hier nie net gaan oor “wie is Jesus” nie, maar ook oor WIE IS EK. Dit lyk vir my dat jou Christologie (hoe jy oor Jesus dink) verraai jou antropologie (hoe jy oor mense dink – in besonder jouself). Sien jy Jesus hoofsaaklik net as die verhewe triomfantelik heerser, gaan jy ook verwag om as Christen ‘triomfantelik te lewe’ (vgl Petrus raas met Jesus, v 31-32). Sien jy Jesus hoofsaaklik na sy mensheid (vgl v 28), kan jy maklik in ‘n hopeloosheid verval.
· Kyk gou na Heb 1 & 2 waar beide Jesus se goddelikheid en menslikheid ter sprake is. Hoe balanseer Heb 2:1-4 dit?
Merk net op dat in Heb 1:1-14 Jesus se goddelikheid beklemtoon word deur te sê dat Hy meer is as die engele. In Heb 2:5-18 word Jesus se menslikheid weer beklemtoon deur te onderstreep dat Hy (2:9) vir ‘n klein tydjie ‘n bietjie minder as die engele gemaak is. Heb 2:1-4 hou die balans tussen dié twee dele deur te beklemtoon a) hou vas aan wat jy geleer het oor Jesus (sy goddelikheid en menslikheid), en b) hou vas aan dit wat jy v Hom beleef het – “tekens en wonders” (d.i. Hy as ‘n werklikheid – sy goddelikheid en menslikheid) in jou lewe.
· Wat sê dit vir jou? Hoe moet jy die balans tref tussen a) die feit dat jy in Jesus die opgestane oorwinnaar is, en b) dat jy soos Jesus ‘n ‘lydende kneg’ moet wees?
Ek reken om by die oorwinning vd leë graf (en dus die opstanding v Jesus) en die krag vd nuwe lewe In Christus (deur die werking vd Heilige Gees) uit te kom, moet jy eers deur die kruis gaan. M.a.w., jy moet eers verstaan wat dit beteken om daagliks aan jouself te sterf, deur “die wêreld” verwerp te word, ontuis in “die wêreld” te voel, en ander te dien ten spyte daarvan dat ek nie selfs nie erken word nie, voor jy regtig kan smag na die volheid wat Christus belowe het – vir die lewe wat kom, maar ook vir hiérdié lewe nou. 9:2 dui vir my in dié rigting: die koninkryk v God kom met krag daar waar ek en jy tsv alles wat stukkend, seer en nie reg is nie, en te midde van dit alles met hoop en verwagting leef – ons geestesoë gevestig op Jesus! (vgl Heb 12:1-3).
· In die lig van die vorige opmerking, wat sal dit vandag prakties vir my en jou beteken om (v 34) onsself te verloën, ons kruis op te neem, en Hom te volg?
Raak hier baie prakties. Dink altyd met die antwoord van só ‘n vraag eerste n.a.v Hd 1:8 (se Jerusalem, Judea, Samaria, tot die uiterstes vd wêreld) aan jou onmiddellike kring – d.i. jou huis en familie. Dink dan verder wat hoe jy dit sal doen in jou daaglikse beroep, jou deelwees v SA en ook jou plek as persoon op hierdie planeet. Luister lekker na mekaar ruil idees en insigte uit. HIER MOET DIE WOORD PRAKTIES WORD EN IETS WAT EK KAN GAAN DOEN – ANDERS HELP DIT NIKS…
Sluit af met gebed en vra die Here om jou te help om Jesus waarlik te volg, nie net in sy oorwinning oor die dood en die graf nie, maar ook in die volle implikasies van kruisdra.

No comments: